The Veenemans Sopranos

 Mozart, COSI FAN TUTTE - 1980


 
 In Maart 1980 vertolk Barbara die rol van Despina in Mozart se komiese opera Cosi fan tutte vir TRUK. Die produksie is vanaf 20 - 29 Maart 1980 in die Aula in Pretoria opgevoer en vanaf 3 - 19 April 1980 in die Johannesburgse Stadskouburg. Die produksie het ook saam met die Universiteit van Pretoria se halfeeufees saamgeval, 1930 - 1980. Hierdie opvoering was ook TRUK se voorlaaste opera in die Aula in Pretoria voordat die organisasie sy intrek in die Staatsteater in Pretoria in 1981 sou inneem.
 
Die rolverdeling was soos volg:
 
Bess Arlene - Fiordiligi
Susan Braadvedt - Dorabella
Barbara Veenemans - Despina
Manuel Escorcio - Ferrando
Werner Nel - Guglielmo
Rouel Beukes - Don Alfonso
 
Die bekende Britse regisseur Graham Vick het die regie behartig en Leo Quayle het gedirigeer. Die dekor en kostuumontwerper was Russell Craig.



 In Die Oggendblad van 22 Maart 1980 som Rudolf van Alk se resensie met die opskrif INVOER-SANGERS SOU DIT NIE BETER DOEN, die produksie soos volg op:
 
"Reeds met die ouverture het die orkes onder leiding van Professor Quayle briljante Mozart-spel laat hoor. Die sangers het hulle op hulle beurt ook nie onbetuig gelaat nie ... die dartelende aanbieding van Cosi [was] 'n fees vir die oog en oor, 'n triomf van lewendige verhoogspel. Dit is moeilik om by die sangers 'sterre' aan te wys. Dit is opsigself reeds 'n kompliment. Indiwiduele ster-allures sou in dié ensemble-opera juis onvanpas wees.
 
Dit was 'n konstellasie of konfederasie - om maar 'n modewoord uit die politiek te gebruik - van uitgelese sanger-akteurs, wat solisties, in duo's en trio's ensovoorts Mozart se skitterende musiek laat lewe en laat sprankel het. Russel Craig het 'n ingenieuse gestileerde dekor ontwerp vir die gestileerde opera buffa. Die vindingryke en geestige regie van Graham Vick het die spel en situasiemoontlikhede hiervan heerlik uitgebuit. Ook die romantiese element het, veral in die feesryke beligting van Nick Michaletos, sy kanse gekry.
 
Die prestasies van die sangers dwing des te meer bewondering af omdat hulle merendeels nog jonk is en tog geaktueer het met 'n slagvaardigheid wat menige ouer en geroetineerde kollega hulle sal beny ... Barbara Veenemans was die parmantige kamermeisie-dokter-notaris, Despina. Sy was nie net verruklik 'common' nie, maar het ook meer 'common sense' aan die dag gelê as haar by tye effens geëksalteerde meesteresse. 'n Sprankelende vertolking met pittige humorsin en geraffineerde tydsberekening ..."
 
Aart de Villiers skryf in Die Transvaler op 24 Maart 1980 onder die opskrif COSI FAN TUTTE LOUTER VREUGDE die volgende resensie:
 

"... Soos altyd was Barbara Veenemans as die onnutsige Despina puik. Sy het die Mozart-lyn, soos ons haar nou goed ken, vir my foutloos hanteer, en sy het die beste van almal gevaar - hoewel duidelik nie sonder om hard te moet probeer nie - om haar interpretasie aan die statiese beplanning te laat ontkom …"

 Mary-Ann van Rensburg skryf die volgende resensie onder die opskrif, COSI 'N AAND VAN SUIWER GENOT die volgende: [koerant en datum onbekend]
 
"Hierdie opera-aanbieding sprankel van begin tot einde. TRUK moet geluk gewens word met sy keuse van sangers. Dit is immers uiters belangrik dat 'n sanger in sy rol moet pas, nie net aangaande sy stemtipe, stemomvang en -styl nie, maar ook wat, sowel voorkoms en liggaamsbou as verhoogpersoonlikheid en toneelspel betref ... Die opera word in Engels gesing, wat 'n mens se genot verdubbel omdat jy ten volle kan verstaan - beide die musiek en die woorde. Te danke aan die sangers se goeie stemplasing, is hulle diksie ook in alle gevalle voortreflik sodat 'n mens deurentyd elke woord kan hoor ... Barbara Veenemans behartig die rol van die kamermeisie, Despina, baie goed. Op egte buffo-wyse praatsing sy die rolle van dokter en notaris in 'n skreeustemmetjie en skep met kostelike houdings en gesigsuitdrukkings 'n klugtige stemming ... "
 
In 'n koerant-resensie [koerant, skrywer en datum onbekend] word die volgende onder die opskrif 'COSI', A MIXTURE OF SOUFFLÉ AND FORBIDDEN FRUIT geskryf:
 

"... Barbara Veenemans (Despina, soprano) gave a soubrette interpretation that positively shimmered with mischievous wit …"