The Veenemans Sopranos

 Barbara Veenemans

Suid-Afrikaanse Sanglegende
"Die Sangeres vol Joie de Vivre"
(1938 - ) 

Barbara Veenemans as Hanna Glawari in Truk se produksie van The Merry Widow - 1977

 


Barbara Veenemans as Afrikaanse adel vereer

Suid-Afrikaners het nog nooit teruggedeins vir die operaverhoog nie en baie van ons skittersterre hier en oorsee is trotse Afrikaanssprekendes. Barbara Veenemans is deel van hierdie uitgelese geselskap. Boonop stam sy uit die familie wat ons operageskiedenis al langer as ses dekades ryklik versier met hoë en diep note.

Die ATKV het op Sondag, 22 Januarie in Centurion ’n oorkonde aan Barbara oorhandig in dieselfde week wat sy 85 jaar oud geword het. Die bloubloed van plaaslike kunskringe het na die Centurion-teater opgeruk vir die galakonsert om Barbara se mylpaal saam met haar te vier.

Besturende direkteur van die ATKV, Sonél Brits, wat die oorkonde oorhandig het, het gesê Barbara is nie net ’n vooraanstaande sopraan nie, maar ook ’n baanbreker op die plaaslike musiektoneel.

“In haar loopbaan van 50 jaar was sy deurgaans baie prominent in operas, operettes en musiekblyspele. Sy was ook ’n vaandeldraer op Suid-Afrikaanse televisie en een van die eerste musieksterre in verskeidenheidsprogramme.”

Dit sluit in haar optredes in die bekende Koffiehuis-konsertreekse en gasverskyning in die program Gé Sing. Saam met die tenoor, George Kok, het Barbara as een helfte van ’n duetpaar ook dikwels op die kassie gepryk. Al Barbara se TV-optredes was in Afrikaans.

Barbara het heelwat Afrikaanse musiekalbums opgeneem. Haar debuutalbum, deur EMI en Brigadiers opgeneem, is getiteld Ek Wens. In 1976 bring Barbara saam met die aktrise, Wena Naudé, ’n album uit. Ander albums sluit in Liefde is so mooi, Ons Beste Soprane, Gister se Afrikaanse Klank en Afrikana – Tradisionele Afrikaanse Liedjies Vol. 6.

Volgens Sonél sal Barbara ook onthou word as die eerste dirigent van die Pretoriase Kinderkoor, wat in 1967 gestig is. In 1971 stig sy die Verwoerdburgse Meisieskoor, wat by die premierswoning, Libertas, opgetree het.

“Dit is vir die ATKV ’n besondere eer en voorreg om Barbara Veenemans te vereer met ’n Oorkonde-toekenning. Dié nagtegaal se suiwer sopraanstem weerklink oor haar lang loopbaan en haar plek in die Suid-Afrikaanse operageskiedenis is onmisbaar,” het Sonél afgesluit.

Vir die uitsoekgaste by die galakonsert het ’n verrassing gewag toe nóg ’n Veenemans-sopraan haar buiging maak. Rochelle Veenemans (18) is blind sedert babadae. Dit keer dié mooi, jong vrou nie om met haar ingebore talent te woeker nie, en onder leiding van ouma Barbara en tante Michelle Veenemans – ook ’n bekende sopraan – straal sy nou as jong koloratuursopraan. Wyl die legendariese Mimi Coertse (90) in ’n rolstoel in die voorste ry toegekyk het, het Rochelle haar ouma toegesing. Dit het haar debuutuitvoering van Die Poppelied, een van die moeilikste arias vir ’n koloratuur, ingesluit.

Rochelle is die vyfde sopraan in die Veenemans-familie. Benewens Michelle Veenemans, is die susters, Leonore en Barbara, en hul kleinboet Bennie almal soprane wat diep spore in ons operageskiedenis gelaat het. Bennie was in die 1950’s ’n wonderkind, wat voor sy stem gebreek het, die land gaande gehad het en saam met die SAUK se simfonieprogramme opgetree het. Bennie se ongewone sopraanstem het nes sy susters s’n geklink. Leonore het tragies verongeluk op net 38 en Bennie, wat hom uiteindelik as mediese dokter bekwaam het, is in 2010 oorlede. Die Veenemans-familie se ruim nalatenskap is ook al vereer met ’n straat in Elarduspark in Pretoria wat na hulle vernoem is.

27 Jan 2023


Bron: https://atkv.org.za/nuus/posts/barbara-veenemans-as-afrikaanse-adel-vereer/







Onder: Barbara Veenemans hou die Oorkonde vas wat sy van die ATKV ontvang het "vir haar lewenslange bydrae tot Suid-Afrikaanse operamusiek as sopraan en vir haar bevordering van die Afrikaanse taal-en kultuurskat".


Foto: @Coekieshots





‘Klein diamant’: blinde vyfde Veenemans-sopraan (18) debuteer

Jan 23, 2023

Wie’s Wie in SA ruk op vir Barbara Veenemans se 85ste

Sonnette Lombaard

Met musiekbloed wat dik deur hulle are bruis, is die Veenemans se prestasies op ons operaverhoog ongekend en selfs ‘n straat in Centurion is na hulle vernoem. Nou het Suid-Afrika se goue operafamilie boonop ‘n nuwe skitterster, en sy laat nie eers blindheid in haar pad staan om haar familie se trotse en ongeëwenaarde operarekord voort te sit nie.

Die beeldskone jong koloratuursopraan Rochelle Veenemans (18) het gister in Centurion die Wie’s Wie in Suid-Afrika in hoendervleis gehad. Sy het haar ouma, Barbara een van ons beste soprane nog, toegesing wat Donderdag 85 geword het. Met die legendariese Mimi Coertse (90) in ‘n rystoel in die voorste ry, het al wat ‘n bekende is na die Centurion Teater opgeruk vir ‘n spog-galakonsert ter ere van Barbara se mylpaalverjaarsdag. Van veteraanakteur Tobie Cronje tot die modeontwerper Simon Rademan is opgemerk.

Op die verhoog het Suid-Afrika se voorste opera- en klassieke musieksterre insluitende tenore Marco Fourie en Coert Grobbelaar, tjellis Gerrit Koorsen en violis Miro Chakaryan met Martin Lane, Jakobus Swart, Paul Ferreira, Eugene Joubert en Rudolf Geldenhuis vir Barbara op klavier met hul talente vereer.

Die statige Barbara het op 85 pragtig gestraal in swart-en-goud met ‘n helderheid en gees van iemand veel jonger. Die ATKV het daartydens ook ‘n oorkonde aan haar oorhandig, wyl die teoloog prof. Christina Landman treffende hulde gebring het aan Barbara wat haar in die 1960s op laerskool vir ‘n operette afgerig het en nie net van musiek nie, maar ook verbeelding geleer het.

Gister se spogprogram is saamgestel deur Barbara se ewe mooi en talentvolle dogter Michelle, wyd beskou as ons beste dramatiese koloratuursopraan. Soos haar bekende ma, het sy ook laas week verjaar. Michelle het self die gaste met haar stem in vervoering gehou met solo-stukke, maar ook saam met haar niggie Rochelle en die res van die sterkunstenaars laat waai.

Michelle het aan Die Waarheid vertel dit was Rochelle wat ook ‘n paar keer op die verhoog was, se debuutuitvoering van die Poppe-Lied, een van die moeilikste arias vir ‘n koloratuur om onder die knie te kry. “Ek het agter die verhoog gestaan en bid dat dit goed afloop, maar sy het onder druk geskitter en is ons ware klein diamantjie.” Rochelle, wat die dogter is van Barbara se seun Jaco Jordaan, se blindheid stam uit nalatigheid met haar geboorte as prematuurbaba toe sy te veel suurstof gekry het. Haar sangtalent word deur haar ouma en tante geslyp.

Volgens Michelle het Rochelle perfect pitch en maak haar bogemiddelde gehoor – sy kan tussen verskillende frekwensies onderskei – op vir haar visie-uitdagings.

Rochelle is reeds die vyfde sopraan in die Veenemans-familie. Die susters, Leonore en Barbara, en hul kleinboet Bennie was almal soprane wat diep spore in ons operageskiedenis gelos het. Bennie was in die 1950s ‘n wunderkind wat voor sy stem gebreek het, saam met die SAUK se simfonieprogramme opgetree het. Sy sopraanstem was ongewoon en het presies soos sy twee susters s’n geklink. Ousus Leonore het op 38 tragies verongeluk. Bennie, ‘n mediese dokter, is in 2010 oorlede. ‘n Straat in Elarduspark is na die Veenemans vernoem.

Die stylvolle Michelle en brawe Rochelle sit sedertdien hul roemryke familie se operaprestasies met mening voort. En geen patriotiese hart was gister bestand teen hulle en die res van die programkunstenaars se uitstal van die ryk talent wat diep in ons land rank nie. Welkome lig vol hoop in die donker tye tans onder Afrika se suiderson.


Bron: https://diewaarheid.com/2023/01/23/klein-diamant-blinde-vyfde-veenemans-sopraan-18-debuteer/










Bo: Rochelle en Michelle Veenemans op die rooitapyt by die Centurion Teater


Foto: Sonnette Lombaard


KYK: Diva vereer by haar 85e verjaarsdag

Hoor ’n mens die van Veenemans, is daar een woord wat jou gedagtes binnespring: en dis SING.

January 27, 2023 Rekord reporter

Opera diva Barbara Veenemans ontvang 'n oorkonde van Sunel Brits, besturende direkteur van die ATKV, terwyl Pretoriase tenoor, Coert Grobbelaar, toekyk.

Hoor ’n mens die van Veenemans, is daar een woord wat jou gedagtes binnespring: en dis SING.

Party van ons sou ons kinderjare nie kon voorstel sonder Barbara Veenemans se stem nie.

Sy is immers ’n beroemde sopraan wat Suid-Afrika se naam hooggehou het – en het jarelank in Bonn sang studeer voordat sy haar in haar tuisland kom vestig het.

Sy was die eerste koordirigent van die destydse Verwoerdburgse Meisieskoor en ook die Pretoriase kinderkoor het onder haar musiekbekwaamheid floreer.

As een van ons dorp se bekendste sangeresse, was haar 85e verjaardagkonsert ’n lus vir die oor – en oog. Met haar eie beroemde dogter, Michelle, en kleindogter Rochelle se sang, was die Vriende wat by die Centurion teater saamgekom het vir die viering, in vervoering.

Martin Lane van eertydse Springbokradio-faam, en jarelange vriend het die klawers laat sing – en daar was ook swaeltjies by betrokke. Marco Fourie, Coert Grobbelaar, en nog ’n paar ander musici het die gehoor betower. Vioolspeler Miro Chakaryan, konsertmeester van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes, het veral met sy sigeunerwysies gewys wat ’n meester met ’n viool kan doen.

Barbara is tydens die geleentheid met ’n Oorkonde van die ATKV vereer. Dit is deur Sonel Brits, besturende direkteur van die ATKV, aan haar oorhandig.

Laaste maar nie die minste nie, was die finale item Schenkt Man sich Rosen waar die hele groep saamgesing en aan haar rose gegee het (soos die lied sê).

Hoe geseënd moet sy voel, met beide haar dogter en kleindogter wat haar fenomenale talent geërf het. Dis seker nooit stil by familie-etes in dié Pretoria-gesin se huis nie.

Bron: https://rekord.co.za/?p=444309










Bo: Sonel Britz van die ATKV oorhanding die Oorkonde aan Barbara Veenemans, Coert Grobellaar is aan die regterkant.


Foto: @Coekieshots



Video links: Barbara Veenemans sing Adele se "oudisie aria" "Spiel ich die Unschuld vom Lande" uit Johann Strauss II se operette Die Fledermaus in Afrikaans, tydens Truk se Opera Gala in die Staatsteater in Pretoria in 1986.

Die dirigent was János Ács.



Barbara se sangloopbaan: 'n Oorsig


Barbara Veenemans kan beskou word as een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande soprane wat 'n onvergeetlike impak gemaak het in die talle operas, operettes en musiekblyspele waarin sy opgetree het. En noudat sy na 45-jaar amptelik uit die sangwêreld getree het, sal ons altyd die klein en fyn Barbara onthou as die sangeres wat met ekstatiese energie oor die verhoog beweeg het en haar gehoor in die palm van haar hand gehou het. Dit is asof die Veenemans-sopraan stem nie werklik gekategoriseer kan word nie omdat elke Veenemans ‘n natuurlike stem het wat aangepas en verander kan word by enige fach, styl en genre. Dit is werklik ‘n unieke talent. Barbara se stem kan beskryf word as 'n natuurlike vol liriese stem, met sterk dramatiese hoë note wat in enige fach uitstekend by elke rol en karakter kon aanpas.


Daarbenewens, was sy 'n veelsydige en intelligente komediant, wat elke rol uniek kon maak. Omdat sy so 'n uitstekende aktrise was, is sy graag gebruik vir karakterrolle en daar was gedurig van haar vereis om haar stem-fach aan te pas. Daar was min ander sangeresse van haar tyd wat haar dit kon nadoen. Haar liriese aanslag het na vore gekom in rolle soos dié van Hanna Glawari in Franz Léhar se operette The Merry Widow, of in die rol van Saffi in Johan Strauss se operette Die Sigeunerbaron.
 
Op die konsertverhoog kon sy haar omvattende repertoire ten toon stel. Daar kon sy self kies wat sy wou sing en het talle koloratuur-arias sowel as liriese arias uit haar repertoire gesing, nie net in die kleinkonsertsaal nie, maar ook in die groot ouditoriums van Suider Afrika saam met volle simfonie-orkeste. As konsertsangeres het Barbara oor die land heen getoer en gehore bekoor met haar pragtige sang en altyd vermaaklike spel.
 
Haar veelsydigheid kon sy ten toon stel toe sy gevra is om onder andere die uitdagende rol van Annie Oakley in die musiekblyspel Annie Get Your Gun te vertolk, wat geheel 'n ander klank van haar stem vereis het. Sy sê altyd dat sy die enigste operasangeres is wat sy ken wat ooit Annie Oakley gesing het!
  
Elke verhoogrol was vir haar 'n uitdaging. Geen rol was te groot of te klein nie. Sy noem dat haar gunsteling en mees suksesvolste rol van haar loopbaan van 45 jaar dié van Adéle in Johann Strauss se operette Die Fledermaus was. Die rol het Barbara soos 'n handskoen gepas waar sy haar fyn komiese toneelspel asook sang-virtuositeit met oorgawe kon ten toon stel. En in hierdie rol het sy die Pretoriase en veral die Johannesburgse gehore en kritici gaande gehad met haar weergawe van My Heer Markies (Mein Herr Marquis).
 
Die rol van Susanna in Mozart se opera Die Huwelik van Figaro (wat as een van die mees uitdagendste en langste sopraanrolle beskou word) was beslis een van Barbara se suksesvolste hoogtepunte van haar loopbaan. Hier het sy resensente gaande gehad oor die 'nuwe opera-vonds'.
 
Barbara was 'n Mozart-eksponent van formaat wat die Mozart-legatolyn met 'n meesterlike tegniek kon beheer en was beskou as die perfekte Mozart-sopraan . Hierna is sy uitgenooi om in Glyndebourne se operahuis te gaan sing, maar sy het dit van die hand gewys weens familieverpligtinge.
 
Maar die een rol wat sy nog altyd wou gespeel het maar nooit die geleentheid gekry het om te sing nie, was dié van Eliza Doolittle in die musiekblyspel My Fair Lady.
 
Aletta Greyling som vir Barbara perfek op in haar koerantartikel met die opskrif KLEIN BARBARA HET GROOT GEESDRIF [koerant en datum onbekend]:
 

"... Barbara hou baie van die engeltjie-met-'n-angeltjie-rolle seker maar omdat sy basies half so is. Vol terg en lag. Maar sy is nie bang om haar sê te sê nie. Sy het werklik 'n fools-rush-in-where-angles-fear-to-tread mentaliteit. Ons het haar op die verhoog leer ken as 'n komediant met 'n goue stem en 'n lighartige aard wat goed aangepas het in haar rolle. Sy is 'n klein mensie met groot geesdrif en 'n stem wat mooi by die omvang van haar geesdrif aanpas. Haar sang was haar stokperdjie. Barbara sê dat sy ook geen prima donna geaardheid of temperament het nie. Daar is soms wel 'n bietjie weerlig van haar kant af, en dit het niks met kunstenaarstemperament te doen nie".

 Haar Kinderjare


BARBARA MARIÉ VEENEMANS is op 18 Januarie 1938 in Witbank gebore as een van drie kinders. Sy is die tweede dogter van Olga en Bernard Veenemans. Ma Olga Veenemans neé Bezuidenhout, die jongste van nege kinders, was op haar dag ook 'n baie goeie sangeres met 'n uitstekende sopraanstem. 'n Sopraanstem wat sy ongelukkig nooit tot sy volle potensiaal ontwikkel het nie. Al die Bezuidenhouts was musikaal. As hulle nie gesing het nie, dan het hulle een of ander musiekinstrument bespeel.


  
Links: Die Veenemans-gesin: Bennie, Barbara, Bernard, Olga en Leonore
 
 
Gou het Olga al drie haar kinders se sangtalent ontdek en nie geskroom om hulle van kleins af liedjies te leer en aan te moedig om verder klasse te neem nie. Pa Bernard was 'n begaafde jazz-musikant en het die kontrabas so met die vingers gepluk. Hy was 'n talentvolle improviseerder en het vir 'n dansorkes gespeel wat oral in die Johannesburg-omgewing opgetree het. As tieners het Barbara en Leonore graag saam met hulle pa se jazzorkes getoer en as soliste opgetree en daarmee die eerste stappe geneem na die groot verhoë van Suid-Afrika.
 
Haar ouer suster Leonore Veenemans was in die sestiger en vroeë sewentiger jare een van Suid-Afrika se bekendste liriese soprane. Haar jonger broer Bennie Veenemans was weer op sy dag een van Suid-Afrika se bekendste seun-soprane. En nou is daar Barbara se dogter Michelle Veenemans wat ook haar regmatige plek inneem as die vierde Veenemans-sopraan.
 
Barbara het haar sang-debuut op driejarige ouderdom gemaak vir die Sondagskool in Witbank toe sy Two little Eyes to look up to God gesing het. (Sedertdien word hierdie tradisie behou sodat elke Veenemans wat potensiaal in die sangrigting toon sy of haar openbare debuut op driejarige ouderdom maak).
 
Barbara het haar laerskoolopleiding in Witbank begin. Later het die familie na Benoni verhuis. Reeds van 'n vroeë ouderdom af het Barbara klavieropleiding ontvang aan die Convent in Witbank asook aan die Convent in Benoni.
 
Barbara was ook 'n entoesiastiese danseres wat reeds van kleintyd af begin het met tap-dancing. Haar dansopleiding het later gedurende haar sangloopbaan uiters handig te pas gekom.
 
Sy het onder andere ook jazz-klavieronderrig van die bekende jazzpianis Peter Grice in Benoni ontvang. Tydens haar kinderjare het sy aan verskeie kunswedstryde deelgeneem waar sy ontelbare goue medaljes en sertifikate gewen het. Gedurende hierdie tyd het Barbara sangonderrig by die bekende Walliese sopraan Gwladys Jones Webber ontvang.
 
Barbara vertel:
 

"Ons was baie jonk toe ons sangles by Mrs Webber begin neem het. Sy het nie met die jeugdige stem ingemeng deur ingewikkelde tegniese oefeninge te gee nie. Sy het die stem natuurlik laat ontwikkel waaroor ek tot vandag toe dankbaar is. Sy het nooit probeer om die natuurlike prag van die stem te verander nie. Wat sy wel gedoen het was om elke lied in die tipies Walliese styl in vertolking af te rig, met die klem op perfekte diksie. Sy het presies geweet hoe om met 'n jong stem te werk."

 
Hoogtepunte wat uitgesonder kan word tydens haar tienerjare is toe Barbara op 15-jarige ouderdom deelgeneem het aan die Springs Music Festival en vier eerste pryse verower het. Op 16-jarige ouderdom het Barbara aan die National Eisteddfod deelgeneem en die kompetisie met die Ierse solo The Kerry Dance vir volwassenes gewen. Die aankondiger het tydens die prysoorhandiging aangekondig: "How interesting; a little Afrikaans girl singing an Irish song in a Welsh Eisteddfod!"
 
Barbara vertel:
 

"Om aan die Champion Solo Eisteddfod deel te kon neem, moes jy eers die ope opera afdeling wen, wat ek wel gedoen het".

 
Op die jeugdige ouderdom van 18 jaar het Barbara die ope Champion Solo Eisteddfod gewen toe sy Leise, leise uit Der Freischütz van Carl Maria von Weber gesing het. Ook op 19 jarige ouderdom het sy haar finale sangeksamen by UNISA geslaag.
 

Barbara by die talle trofeë wat sy verower het 

 
In hierdie koerantknipsel onder die opskrif BEST IN THE COUNTRY [koerant en datum onbekend], word die volgende oor Barbara se prestasie berig:
 
"Barbara Veenemans, the 18-year old daughter of Mr and Mrs B Veenemans of 34, 13th Avenue, Northmead was awarded a bursary on Saturday evening when she was judged the most outstanding competitor in the Senior Section at the South African National Eisteddfod. Earlier in the week, she came first in the open solo ladies operatic section and in the open lyric soprano, beating competitors from all over the Union…If she gets the chance she hopes to go overseas to further her studies."
 
Barbara het in 1955 aan die Hoërskool Brandwag in Benoni gematrikuleer en het na skool as student by die Pretoriase Onderwyskollege ingeskryf om haar as onderwyseres te kwalifiseer.
 
Barbara vertel:
 
"Die tyd wat ek by die Pretoriase Onderwyskollege deurgebring het was die mees genotvolste tyd van my lewe, want ons het net 'gejol' ".
 
 
Haar Familie
 
Barbara is op 2 Julie 1960 met Philip Jordaan getroud en het twee kinders die sopraan Michelle Veenemans en haar seun Jaco Jordaan.
 
Barbara vertel:
 
"Ek het my kinders oral saam met my geneem, waar dit menslik moontlik was. Jaco het altyd saam na die garderobe gegaan en Michelle was altyd daar as daar geoefen word. Hulle het my altyd hoor sing. Hulle het albei op die ouderdom van drie jaar hulle eerste opera deurgesit sonder om aan die slaap te raak, altyd soekend wanneer mamma weer gaan sing".

 

Bo: Barbara Veenemans in die kleedkamer van die Johannesburgse Stadskouburg tydens openingsaand van die Truk-produksie van Kismet, 1973
 
Michelle vertel:
 
"Ons kinders was altyd saam met Moeder oppad na een of ander opvoering, repetisie of konsert. Ons was altyd deel van hierdie fantasiewêreld van sang en toneelspel. Ons was nooit uitgeslote of alleen oorgelaat aan dié of daardie oppasser nie. As sy op toer gegaan het, kon ons altyd saamgaan, veral tydens die skoolvakansies. Gedurende die dag was ons saam met haar en as sy opgetree het, het ons of saamgegaan of ons was by die huis by pa.
 
Sy het ons van kleintyd af geleer om te sing en ons kon elkeen op twee jaar al ons eerste liedjies sing. Ek het my openbare sangdebuut op driejarige ouderdom gemaak op 'n konsert saam met haar en Rudi Neitz. Dit was 'n ongelooflike belewenis wat ek tot vandag toe kan onthou!
 
Die plattelandse toere was altyd vir my die opwindendste want dan het ons van die een dorp na die ander gereis, interessante mense ontmoet en snaakse situasies beleef. Ons kon altyd met 'n handvol stories teruggaan skool toe om te vertel van alles wat ons beleef het!
 
Dit was vir my 'n groot voorreg om deel te kon gewees het van hierdie opwindende era van opera in ons land wat so skielik tot 'n einde in die jaar 2000 gekom het. Ek was deel van hierdie bloeityd van opera, 'n leerskool vir my as sopraan, van onskatbare waarde!"
 


OPERAS, OPERETTES EN MUSIEKBLYSPELE

Gebruik die skakels hieronder om meer te lees oor die produksies waarin Barbara opgetree het:

OPTREDES VIR DIE SAUK - TV - LIGTE MUSIEK PROGRAMME


Barbara het ook baanbrekerswerk op Suid-Afrikaanse TV gedoen. Sy was een van die eerste Suid-Afrikaanse musieksterre wat tydens verskeidenheidsprogramme op TV in Suid-Afrika verskyn het. Die eerste program was 'n direkte uitsending wat slegs by die Randse Paasskou uitgesaai is. Dit was deel van die SAUK se promosieveldtog om TV en plaaslike produksies aan Suid-Afrikaners bekend te stel. In Maart 1976 tree Barbara in verskeie TV-programme op soos in die bekende Koffiehuis-konsert reekse. In April 1977 sing Barbara saam met Gé Korsten as een van vele gaskunstenaars in sy gewilde TV-musiekprogram Gé Sing. Die regisseur van hierdie uiters gewilde programme was Koos van Staden. Barbara en George Kok het in talle TV musiekprogramme opgetree. Daar was van hulle vereis om ingewikkelde danspassies uit te voer tot groot vermaak. Hulle was 'n uitstekende komiese sangpaar. 



Source: Radio en TV, 21-27/7/1975, Vol 21, nr 8


WAAR IS DIE DAE ... - 1979


Barbara het in die TV program Waar is die Dae ... opgetree in die hoofrol van die kelnerin Maude-Mary Purcell. Hierdie program is op Pelgrimsrus verfilm met onder andere Danie Smuts, Sjoerd Beute, Rudi Neitz, Carl Trichardt, Manuel Escorcio, Ferdi Uphoff, Christine de Wet en Len Lindeque. Van die ander deelnemers was die Acapellakoor, Lauren Copley, Klaas de Boer, Willie Fourie en Zak du Plessis.
 
In Die Hoofstad-artikel van 4 Mei 1979 word die volgende vertel oor die inhoud van die program:
 

"In hierdie musiekprogram word talle staaltjies van die karakters uit Pelgrimsrus vertel. " ... So is daar die staaltjie van Maud-Mary Purcell, wat deur Barbara Veenemans gespeel word. Die man op wie sy verlief was, was een van die talle met swerwersbloed in hulle are. Maud-Mary se storie word vertel in die liedjie Ballade vir 'n Waitress, waarin sy haar klagtes oor de klante wat haar gedurig roep, sing: 'Ek is net maar mens, en as ek nog 'n order kry dan gaan ek wraggies grens' ... "

 
Van die liedjies is spesiaal vir die program gekomponeer onder andere deur die bekende liedjieskrywers Anton Goosen, Fransua Roos en Amanda Joubert. Van Xander Haagen se musiek is ook gebruik. Koos van Staden was die regisseur en Abraham de Vries het die draaiboek geskryf. Die program is op 21 Mei 1979 op TV uitgesaai. 

Johan Stemmet op Facebook skryf: "1981: Ek het vreeslik geniet om te sien waar julle gunsteling liedjies lê! En daar val Sarie uit met " As dit nag word in die Bosveld"! Toe ek dit sien toe vat dit my terug na 1981 en n tv reeks " my land my lied" wat ek vir die destydse TV1 vervaardig het. Ons het die land plat getoer en al die ou Afrikanse liedjies van toeka se tyd in die omgewings waaroor hulle geskryf is opgeneem. In hierdie foto is ons in die veld besig om reg te maak voor die son sak om juis " as dit nag word... in die Bosveld" op te neem. Die sangers was Maritza, Piet Standton, Barbara Veenemans en Freddie Uphoff. Freddie het groot naam gemaak met Jaques Brell liedjies. Wonder wat van hom geword het?  Darem lekker om soms net bietjie terug te dink aan lekker dinge uit gister se dae. Ag...ons mag maar! Dis nog n ding van musiek...die herrinneringe wat sekere liedjies vir mens inhou ... "





Fotos links: Barbara tydens die verfilming van die Musiekprogram "Waar is die dae" in Pelgrimsrus.


Fotos geskenk deur Pieter Krugel.







 Source: Radio en TV, 21-27/7/1975, Vol 21, nr 8


KONSERTE


 Afgesien van haar optredes in operas, operettes en musiekblyspele, het Barbara gereeld as solis opgetree vir die TRUK-orkes in verskeie etensuurkonserte, sowel as in opera en operette gala-uitvoerings, waar sy haar wye repertoire wat liriese sowel as koloratuurarias ingesluit het kon ten toon stel.

 Om oor Barbara se konsertoptredes te skryf sal 'n boek op sy eie moet verg. Hier volg net 'n kort oorsig: Barbara begin reeds haar konsertloopbaan op driejarige ouderdom op verskeie konserte. Sy en haar suster Leonore het gereeld opgetree by verskeie uitsoekgeleenthede.

 Gedurende haar loopbaan as professionele sangeres het sy voor talle hoogwaardigheidsbekleërs opgetree wat onder andere verskeie Eerste Ministers en Presidente van Suid-Afrika ingesluit het. Sy het ondermeer op verskeie geleenthede vir die Ministerie van Verdediging en vir verskeie Administrateurs van Transvaal gesing.

 Haar konsertloopbaan het haar regoor die land geneem. Sy het nie slegs in die land se groot stede opgetree nie, maar sy het omtrent in elke klein dorpie in Suid-Afrika 'n konsertuitvoering gegee. Van haar gereelde medesangers sluit in Gé Korsten, Rudi Neitz en George Kok. Sy het ook op konserte in Suidwes-Afrika (Namibië) gesing en was in die sewentiger jare ook op 'n konserttoer deur Rhodesië (Zimbabwe) saam met Gé Korsten.

 In die sewentiger jare vertrek sy na Suidwes-Afrika (Namibië) om daar te gaan sing vir die troepe wat grensdiens gedoen het. Dit bly vir Barbara een van die opwindendste toere wat sy nog meegemaak het.

 Hier volg een van vele resensies oor Barbara se konsertloopbaan. In 1975, tree Barbara saam met die tenoor Gé Korsten en die pianis Albie Louw op in 'n reeks konserte in Port Elizabeth: In 'n koerant-resensie [koerant en datum onbekend] skryf die resensent onder die opskrif GÉ KORSTEN CONCERT A PLEASING PROGRAMME:

 "... Barbara Veenemans is a charming and versatile rising star in the entertainment sky. Possessed of a bright voice with a naturally sweet timbre, which she is learning to control effectively, plus good looks and a sense of fun, she projected a stage personality that should give her a happy perhaps even lucrative stage career. Having established a claim to recognition as a real soprano with arias from Viennese operas, she presented, with fine expression, some romantic evergreens. Later her 'I could have danced all night' and 'Just you wait' from 'My Fair Lady' would have delighted any audience …"

 

________________________________

 In 1987 tree Barbara en George Kok as gaskunstenaars op tydens die Vita-Awards wat gehou is in die Johannesburgse Stadskouburg. Hier het hulle die gehoor gaande gehad met hulle operette-duet, Und die Musik spielt dazu.

 Sy het ook met die TRUK-orkes na verskeie hoërskole regoor die land getoer om leerlinge aan die simfonie-orkes bekend te stel.

 Daar kan opreg gesê word dat Barbara deur haar professionele loopbaan selde of ooit 'n negatiewe resensie gekry het, 'n pluimpie waarop min sangers aanspraak kan maak. Barbara het ook selde vir enige rol ge-oudisie, want haar uitstekende sangkwaliteit het haar vooruit geloop en sy is verhoogrolle onvoorwaardelik aangebied.

 

ORFEO ED EURIDICE - 1986


In 1986 tree Barbara saam met die mezzosopraan Elizabeth Botha op in die rol van Euridice in die konsertweergawe van Gluck se opera Orfeo ed Euridice. In hierdie ongelooflike mooi weergawe tree sy saam met Bets Botha op wat die rol van Orfeo sing en die sopraan Ina Rudolph wat die rol van Amor sing. Die Pro Arts Kamerorkes is deur André Ras gedirigeer. Willem van Tonder se Ad Libitum koor het die pragtige koorgedeeltes uit die opera gesing. 

 

OPERA GALA KONSERT - 1986


Op 8 Julie 1986 sing Barbara in TRUK se hoogtepunt Galakonsert saam met van Suid-Afrika se voorste operasangers in die Staatsteater in Pretoria. 

Elke sangeres het 'n spesiaal geontwerpte aandrok vir die geleentheid as geskenk ontvang. Haar rok is deur Peter Soldatos ontwerp. Sy het die voorreg gehad om die konsert af te sluit met Adéle se 'oudisie-aria' Speel ek onskuldige bloedjies (Spiel ich die Unschuld vom Lande) uit J Strauss se operette Die Fledermaus. Die dirigent was János Ács. Sy sing onder andere saam met:

Joyce Barker, Lawrence Folley, Bob Borowsky, Rouel Beukes, George Kok, Emma Renzi, Mimi Coertse, Rina Hugo, Manuel Escorcio, Susan Braadvedt, Werner Nel, Nellie du Toit, Aviva Pelham, Hans van Heerden, Rina Hugo, Gerhard le Roux. 


OPERETTE GALA KONSERT - 1987


Die konsert Die Glans van Operette is op 25 Maart 1987 in die Staatsteater in Pretoria gehou en op 1 April 1987 in die Johannesburgse Stadskouburg herhaal. Hier kon Barbara haar uitleef in die fach wat haar soos 'n handskoen gepas het.

 Saam met Barbara sing Mimi Coertse, George Kok, Gerhard le Roux en Andre Howard. Die Konsert was beplan deur Andy Gibson en die TRUK-orkes is deur Weiss Doubell gedirigeer.


HAAR PLATE / CDs

  

In 1966 neem sy haar eerste langspeelplaat Alleen vir Jou op.

 

In 1974 neem Barbara die langspeelplaat Ek Wens vir EMI / Brigadiers op. Dit is 'n versameling van ligte kontemporêre Afrikaanse liedjies.

 

In 1976 neem sy ook 'n kortspeler saam met Wena Naude op (EMI / Brigadiers Musiek)

Kant 1: Gaan in Vrede (Toerien)

Kant 2: U is my Heer (Jan De wet)

 

In 1978 neem Barbara die langspeelplaat Liefde is so Mooi op vir Teal Records.

 








In 1996 is 'n CD, 'n versameling van haar twee ligte langspeelplate uitgegee, onder die titel Kom Terug.


 Ander CDs waarop Barbara verskyn:

  • Barbara Veenemans - Kom Terug
  • Ons Beste Soprane
  • Afrikaanse Goue Jare Vol 1
  • Afrikaanse Goue Jare Vol 2
  • Gister se Afrikaanse Klanke Vol 2
  • Top 40 Afrikaanse Treffers Vol 4
  • Neem my Hart - 40 Allermooiste Liefdesliedjies
  • Afrikana - Tradisionele Afrikaanse Liedjies Vol 6



Opera SA - For the first time ever, all South Africa's famous opera stars ranging from Gert Potgieter, Emma Renzi, Ge Korsten to Barbara Veenemans, Michelle Veenemans, Deon van der Walt, Michelle Breedt, Johan Botha, Mimi Coertse, Nellie du Toit, Joyce Barker, Cecilia Wessels, Dawie Couzyn, Manuel Escorcio and many more available on one album! Available from September 2011. Compiled by RSG and distributed by Next.

 

 

 

 

 

 

 

 

ONDER ANDERE

Barbara was onder andere 'n deeltydse sangdosent aan die Toonkunsakademie van die Universiteit van Pretoria.

 Sy was ook 'n gesogte koordirigent en was die eerste dirigent van die Pretoriase Kinderkoor wat in 1967 gestig is. Barbara het saam met die koor op 'n uitgebreide toer onder andere deur Oos Transvaal gegaan en het ook in die Nasionale Krugerwildtuin opgetree. Hulle het 'n somerskool by die Drakensbergse Seunskoor bygewoon waaronder hulle ook verskeie konserte in die omgewing aangebied het. Die Pretoriase Kinderkoor onder beskerming van die Aula Komitee van die Universiteit van Pretoria was onder andere uitgenooi om in die Presidensie van President CR Swart op te tree.

 In 1971 het Barbara die Verwoerdburgse Meisieskoor gestig. Die Meisieskoor is onder andere uitgenooi om vir Mev Voster, eggenote van Eerste Minister BJ Voster by Libertas op te tree.

 In 1986 verskyn Barbara vir die eerste keer in die Who's Who of Southern Africa.

 In 1998 ontvang sy 'n oorkonde van die FAK vir haar bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse Lied.

 In 2007 ontvang Barbara 'n Sertifikaat van Erkenning van Die Musiekgemeenskap van Pretoria vir "haar volgehoue bevordering van musiek (Kategorie Opera) oor jare heen en hierdeur ook direk die instandhouding van die musiekkultuur en die deel met andere die kuns van die stem. U word geag 'n ambassadeur op musiekgebied te wees vir Suid-Afrika." 

 Barbara is a gesogte sangbeoordelaar en het gedurende haar sangloopbaan talle eisteddfods, kunswedstryde en kunsfeeste beoordeel. Sy is ook ‘n gesogte sangonderwyseres wat ‘n onskatbare bydrae lewer tot die ontwikkeling van jong talent. 

 Sedert haar uittrede uit opera, hou Barbara haarself besig met haar dogter, die sopraan Michelle Veenemans se sangloopbaan. Sy reël en doen die regie van al Michelle se konserte. Sy ontwerp en maak ook meeste van Michelle se verhoog-kostuums. Sy het onder andere Michelle se opspraakwekkende kostuum ontwerp en gemaak wat sy vir die produksie in Mozart se opera Die Zauberflöte in Namibië gedra het. Sy is ook 'n kranige fotograaf en neem meeste van Michelle se pubilsiteitsfotos.

 Barbara het onder andere die regie en musikale leiding behartig vir talle skool operettes, die konsert en teater  produksies, Flair, Operetta Glitz vir Fanie Smit Musiekproduksies, Opera for Kids en Kinder-Variete vir die Pierneefteater en Bravura! vir National Arts Festival, 2010. Sy is tans besig om te werk aan die produksie I lost my heart in Vienna.


 Barbara Veenemans se opera-loopbaan word in die volgende publikasies vermeld:

  •  Opera, Volume 23 - George Henry Hubert Lascelles Harewood (Earl of), Rolls House Pub. Co., 1972 – Music
  • South Africa: Official Yearbook of the Republic of South Africa, South African Dept. of Information., 1973 - 1099 pages
  •  South Africa: a visual history, 1975
  • South Africa: a visual history, 1976
  • South African digest - South Africa. Dept. of Information, South African Information Service, South Africa. Bureau of National and International Communication, Dept. of Information, 1977 – History
  • South African digest - South Africa. Dept. of Information, South African Information Service, Dept. of Information, 1978 - History
  • South African State Dept. of Information, 1979 - History - 1044 pages
  • South Africa, Volume 6 - South Africa. Dept. of Information South African State Dept. of Information, 1979 - History
  • International music guide, Tantivy Press, 1981
  • South African digest - South Africa. Dept. of Information, South African Information Service, 1978 – History
  • Financial mail, Issues 5-9, S.A.A.N. Ltd., 1985 – History
  • The flag is flying: a very personal history of theatre in the old South Africa, Leonard Schach, Human & Rousseau, 23 Sep 1996 - 191 pages
  • Stage by stage: the Leonard Schach story, Donald Percival Inskip, Human & Rousseau, 1977 - Performing Arts - 128 pages
  • Lantern: journal of knowledge and culture, Volume 34 (South Africa. Dept. of Education. Adult Education Division, S. A. Association for Adult Education, S. A. Association for the Advancement of Knowledge and Culture, Foundation for Education, Science, and Technology (South Africa)) -  Adult Education Division, Union Education Dept., 1985
  • South African Music Encyclopaedia: P-Z. Pierre Malan, Human Sciences Research Council, Oxford University Press, 01 Jan 1996 - 520 pages
  • Who's who of Southern Africa - Ken Donaldson (Pty.) Limited, as from 1986
  • Just the ticket!: my 50 years in show business - Percy Tucker
  • Ge Korsten: Portrait of a tenor - Sebastian Pistor
  • 'n Stem vir Suid-Afrika: my storie, soos vertel aan Ian Raper - Mimi Coertse
  • 50 stemme: die grootste name in Afrikaanse musiek - Ilza Roggeband, 2009
  • Notícias da África do Sul, South Africa. Embassy. Portugal, 1976 - South Africa
  • Neels Hansen, A Portrait. 2015

  



Barbara Veenemans sings a crossover version of the Barcarole in Afrikaans.

 

 

 





 

Please note that not all media references are complete and could not be verified, as information was taken from media cuts from Barbara Veenemans's private collection. Photographs were used from private collections and some media clippings have no reference. Not all sources of information could be verified.
 © 2010. Copyrighted. All rights reserved. To make use of any of the contents of these pages excluding the videos, please contact veenemans@mweb.co.za