The Veenemans Sopranos

 KISMET - 1973
 
 
In November / Desember 1973 voer TRUK sy eerste musikale skouspel op. Die musiekblyspel Kismet (die musiek deur die Russiese komponis Borodin is hiervoor verwerk) sal altyd as een van TRUK se 'groot' skouspele onthou word. Op 15 November open die produksie in die Johannesburgse Stadskouburg. Mense het tot kaartjies op die swartmark gekoop om dit by te woon. Die Stadskouburg was tot oorlopens toe vol en mense het aangebied om op die trappies van die ouditorium te sit en kyk. Die produksie is beskou as 'TRUK se grootste; "The Greatest Musical Extravaganza ever produced in South Africa… "
 
Die rolverdeling is imposant en was soos volg: 
Marsinah - Barbara Veenemans
Caliph - Gé Korsten
Hajj - Lawrence Folley
Lalume - Iris Chapple
Wazir - Kerry Jordan
Omar - Bruce Anderson
Bangle man - George Kok
En vele andere …
 
Dirigent - Leo Quayle
Regisseur - Anthony Farmer
Dekor - Anthony Farmer
Kostuums - Neels Hansen
Choreografie - Wendy de la Harpe
 
'n Paar statistieke oor die produksie soos in verskeie koerante gepubliseer
 
Daar was oor die 100 sangers, dansers, akteurs en musikante wat aan die produksie deelgeneem het. Daar was 'n koor van 40 lede en die grootste simfonie-orkes wat nog vir 'n Suid-Afrikaanse musiekblyspel gebruik is. Afgesien van die 15 skouspelagtige dekorstelle met tonele soos die badpoel van die harem, die binneplein van die hof met 12 reuse spuitfonteine en die tradisionele markplein, was daar sowat 500 skitterende kostuums en 300 Midde-Oosterse kopstukke te sien. Die produksie het R 250 000-00 gekos om op te voer en die duurste sitplekkaartjie was R 6-00. Die bemarking wat vir die ekstravaganza gedoen is, was oorweldigend. Daar was honderde foto’s geneem wat vir weke lank in koerante en tydskrifte gepubliseer is. Kleurvolle voubiljette is versprei en uitgedeel.
 
Berna Maree van Die Hoofstad skryf op 16 November 1973 onder die opskrif KISMET BEKOOR, die volgende oor die produksie:
 

"Dit was nie slegs 'n heerlike, lughartige musiekblyspel nie. Die hele Kismet is 'n strelende visuele belewenis, deurgaans 'n ware fees vir die oog. Die pragtige weelderige oosterse kostuums, die treffende kleur samestellings teen die agtergrond van eenvoudige Oosterse argitektuur die sprankelende musiek, het teatergangers meegevoer na die stemming van 'n Oosterse sprokiesland, vol intriges, weelderigheid en ... romanse. 'n Hele leefwyse en lewensfilosofie word oorgedra deur middel van subtiele dialoog en sangnommers, met pittige en humoristiese sêgoed en dubbelmenings deurspek, én dansbewegings wat van heerlik sensueel tot by lagwekkend komies, gewissel het ... Barbara Veenemans in die Aspoestertjierol van die bedelaarsdogter wat op die Kaliph verlief raak, was speels en sprankelend ..."


 Coenie Slabber, die Rapport se kulturele redakteur, som Barbara se Marsinah so op as hy in sy resensie met die opskrif DIS BARBARA SE KISMET! die volgende skryf [datum onbekend]:
 
"Dis Barbara se Kismet. En Neels Hansen s'n. Die skouspelagtige musiekblyspel wat TRUK nou in die Johannesburgse Stadskouburg opvoer, het al daardie kleurryke oordadigheid van die jare veertig en vroeg vyftig. Vir die wat sondermeer van soveel kleur en glinster hou, sal dit 'n fees wees in hierdie komende vakansietyd.
 
Die ster van die opvoering is Barbara Veenemans wat reeds met haar vorige optrede in die Skouburg - as Susanna in Die Huwelik van Figaro - so sprankelend was. Hierdie keer is sy as Marsinah, die dogter van die digter-bedelaar Hajj, net so 'n gelukkige keuse - in voorkoms en spel en sang ..
. ''
 

 

 

 

Links: Barbara en Ge Korsten in die hoofrolle  in Truk se Kismet, 1973 (onbekende tydskrif)

 

Barbara saam met Lawrence Folley in 'n toneel uit Kismet, 1973 (publisiteitsfoto - Truk)

 

 

Barbara in die Marktoneel, Kismet 1973 (foto uit die program)


Een van die vele hoogtepunte uit die Kismet-produksie.
Barbara en Ge Korsten saam by die groot fontein op die verhoog (foto uit die program)