The Veenemans Sopranos

 ANNIE GET YOUR GUN - 1983



In 1983 vertolk Barbara die rol van Annie Oakley in Irving Berlin se gewilde musiekblyspel, Annie get your gun. Hulle gaan op toer vir al die Streekrade TRUK, SUKOVS, NARUK en SWARUK (Namibië). Met hierdie rol toer sy deur die hele Suid-Afrika asook na Windhoek in Namibië. Daar was amper 50 opvoerings nasionaal sowel as in Namibië gehou.
 
Die rolverdeling was soos volg:
 
Barbara Veenemans - Annie Oakley
Pieter Niemann - Frank Butler
Willem Vermaas - Buffalo Bill
Olive King - Dolly
Die regisseur - George Kok
Musikale leiding - Edith Isaacman
 
Michelle Veenemans vertel:
 

"Groot was my opgewondenheid toe ek in September 2006 die rol van die Koningin van die Nag in Mozart se Towerfluit in die Nasionale Teater van Namibië gesing het en moeder se plakkaat van Annie Get Your Gun wat teen die teatermuur opgeplak is, ontdek het. Dit stop 'n mens in jou spore en dis ongelooflik hoeveel emosies jy ervaar as jy so iets onverwags sien en dan dink jy in verwondering 'jou ma het hier 23 jaar gelede ook gesing!"

 
'n Resensent [koerant, skrywer en datum onbekend] skryf die volgende onder die opskrif TRUK SE ANNIE 'N TREFFER:
 

"... Volgehoue sprankeling het Saterdag TRUK se produksie van dié musiekblyspel gekenmerk. Dis niks minder as 'n treffer nie en nie net vir die ouer kykers en luisteraars nie. ... Elkeen in die produksie verdien lof. Dit was heerlik om Barbara Veenemans weer in Bloemfontein te hoor sing. Met haar natuurlike speeltalent en stemtimbre wat perfek by die Amerikaanse uitspraak pas het sy van Annie Oakley a genotvolle karakter gemaak ..."

 
  
GIGI - 1984
 
 
In Augustus 1984 gaan Barbara op toer met die musiekblyspel Gigi van Lerner & Loewe deur die Vrystaat vir SUKOVS. Nou begin Barbara die "ouer" rolle vertolk.
 
Sy vertolk die rol van Mamita en sing onder meer saam met Cinda Eatok as Gigi, Willem Vermaas as Honore Lachailles, David Matheson as Gaston Lachailles en Marna Gey van Pittius as Aunt Alicia. Die regie is deur David Matheson behartig en Edith Isaacman het die musikale leiding geneem. Die dekor is deur Deon van Dorp gedoen en James Parker was verantwoordelik vir die kostuums.
 
Hulle het vanaf 1 - 14 Augustus deur die Vrystaat na Brandfort, Hoopstad, Bothaville, Bloemfontein, Welkom, Ficksburg, Bethlehem, Harrismith, Vrede, Kroonstad, Parys en Winburg getoer.